Noord van Negentig Somers

Die geluide wat vanoggend die gang afsypel tot hier waar ek nog half luierig en slaperig lê,  meng met die woorde van Clare Crosby wat Million Dreams saam met haar Pa sing.

Die huis is die afgelope tyd ontsettend leeg.  Daar’s hierdie groot gat sedert ons die katste kat van al my katte begrawe het.  Minder as twee weke later het die hondste hond van alle honde in die wêreld wat soveel meer as ‘n hond was, sy laaste asem voor my bed uitgeblaas.  Nie almal verstaan watter gat in jou hart geruk word dan nie.  Anyway – voor ek myself nou weer in trane hier skryf oor die hond en die kat, oortuig ek myself dat hul nou seersekerlik styf langes my Ma en Pa sit in die Paradys.

chester diego
Die katste kat van alle katte by die hondste hond van alle honde wat soveel meer as net ‘n hond was lê nou saans styf in die Paradys

 

Anyway – die stemme wat afkronkel in die lang gang, af met die twee trappies en hier langs my in my warm bed kom lê, juis daar waar die kat altyd sy lê kom lê het, wurm hulself hier tot in die rouerige krake van my hart en ek vang wraggies dat my linkermondhoek geamusseerd gelig het tot daar waar die warm traan gebiggel het.

japie ninon ma grace pa boompie.jpg
Grace staan styf langs my Ma die dag toe ons vir Pa ‘n boom geplant het

Om die storie seker meer te laat sin maak – ‘n effe van verduideliking.  Meer as 20 jaar reeds woon twee bejaarde susters bymekaar – die een meer mankoliek as die ander.  Die een is eergister oorlede.  Haar ousus, noord van negentig somers, slaap nou saans af in die gang want ons kan haar nie alleenlos nie.  Sy is bang, wankelrig, hartseer, so fragile en haar helder verstand van vroeer het sy helemal opgebruik.

image-48.jpg
Ek moet myself herinner – al is sy nou noord van negentig – woon daar ‘n jong Ma van drie klein seuntjies binne in die lyf van die tenger vrou wat snags af in die gang slaap

 

Ergens anders het ek al geskryf van die kinders wat nou almal uit die huis uit is. Nou kan jy mos dink hoe weergalm die alleengeid hier af in die gange soos ‘n bleddie verdwaalde pingpongbol.   Sonder dat Blompot ‘n woord hoef te sprak, hoor ek haar woorde in haar oë toe sy vir my kyk:  ‘Mom (my kinders is Afrikaansgestremd – ‘n anner storie jy sien) – you can’t leave Ouma alone at night!”.  En so slaap Ouma nou  snags hier af in die gang en ek vind myself ‘n paar keer opstaan in die nag om te gaan kyk of sy oukei is en die kombers bietjie op te trek – nes ek die laaste tyd die kombersie ook ‘n paar keer snags oor die kat en die hond getrek het.

 

Om terug te keer na vanoggend – die drie stemme wat afsypel in die gang – die gedempte sagte fragile noord-van-negentig-stem; die rustige mans basstem van haar seun en die vrolike amper sopraanstem van Grace wat my kinders grootgemaak het en elkeen van my familie by hul stem en nukke ken.  Ek hoor hoe sy vir haar wit Gogo met trooswoorde reg uit die Hemel toedraai sonder dat ek ‘n enkele woord eintlik hoor.  Ek hoor hoe Gogo die gebeurlikhede van haar suster se dood  weer haak-haak herhaal.  Ek hoor die diep stem van haar middelkind  die gapings tussenin vul.

Die ander mondhoek voel ek het nou gelig amper net so hoog soos die ander ene.

Ek’s so bly en dankbaar dat so ‘n eenvoudige oggend vir my vanoggend eintlik genoeg is.

Terloops – voor enigeen bekommerd raak – Ek’s oukei 🙂

Advertisements

5 thoughts on “Noord van Negentig Somers

  1. Ai Karin, dit is die wonderlikste skrywe!! Ek pik sommer ‘n traantjie. Ek en my sussie het al baie gesê ons sal graag saam oud word! En nou, hoe gelukkig is Ouma om so ‘n skoondogter te hê!! Verlang vandag ekstra na my dierbare pa!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s