DDT Sjampoe en my Wonderlike Pavlova Hare

 

hospital-gown-001

Hul noem dit ‘minor surgery’ maar probeer dit aan my knie en been verduidelik.  In my opinie hoort woorde soos gering en operasie nooit gesamentlik in een sin gebruik te word nie. Ek vermoed die chirurg het ‘n royal tyd gehad met al die gadgets wat hy in my gekrokte knie kon inkry – met grinders, sae, bore, messe en ‘n kamera  natuurlik. As bewys het hy die foto’s van die stap vir stap prosedure met trots agterna vir my gewys.  ‘n Indrukwekkende slagveld van voor en na kiekies nogal – nes die before en after kiekies op die dekoreerkanale. ‘Hierdie flap was oorbodig.  Daai growwe plek is gladgeskuur; hierdie stuk is weggesaag; die minuskus het sleg geskeur – bestaan daar dan dalk ‘n goeie skeur wonder ek?

Die been neuk nou al vir etlike maande en natuurlik het ek gedink en gehoop dat dit vanself sou regkom.  Maar hier sit / lê ons nou die meeste van die tyd – ek en die bene.  Snags is ‘n marteling – niemand kan vir my mooi verduidelik hoekom die pyn so erg is in die nag nie – maar danksy Miss Google sien ek dat ek nie alleen in hierdie pynstryd is nie.

My daaglikse uitsig in die herstelposisie na ‘n knie-prosedure.  

Ek’t tot die gevolgtrekking gekom dat ek ‘n veel beter besoeker is aan hospitale as ‘n pasiënt.  My hare het my nogal gewaarsku dat hier ‘n ding kom.  Eerstens moes ek twee keer stort in ‘n ontsmettingsmiddel – kan jy glo. ‘Dry your body with a clean towel.  Wear clean pajamas.  Sleep in clean sheets.’ Dis nou die nag te vore.  En herhaal die volgende oggend – minus die sleeping instructions.  Ek was klaar in die bed in 3 dae gelede se veranderde beddegoed en gister se nogskoonpajamas toe ek hierdie kleinprint lees.  Gmpf.   Om wie te beskerm wonder ek?  Die oggend had ek maar weer die stortritueel met die DDT shampoo gedoen.  Die enigste deel van my lyf wat mal  was  hierdie magic sjampoo ritueel was my hare wat wild en wonderlik opgefluff het soos ‘n pryswenners pavlova.

Ek trek skoongenoeg klere aan.  Make-up.  Geverfde toonnaels.  Rooi lipstiek.

Die nurse wys my my hospitaalkateltjie en gee vir my die mooi blou gowntjie en die ontwerpers panty – ‘one size fits all Mevrou’.  Rerig?  Nottenbleddiedêm seg ek maar dit bedek darem my lendes. Die gowntjie het net een strikkie agter – heelbo.  So as jy jou drentel moet drentel voor die tyd – doen jy so ‘n trippel trippel – in my geval ‘n hinkestrompel vanweë my seer been – met twee hande agter wat die gowntjie probeer toeknyp en sodoende nie die ander pasiënte in die saal onnodig verder te ontsenu nie.  Almal wag vir een of ander prosedure.

Die urine monster word gelewer in ‘n oorgrootte bakkie gemaak van eierhouerkarton.  ‘Bring dit tog terug na u bed Mevrou – sodat ons nou nie deurmekaar raak met die monstertjies nie OK?”  Reeds toe het die waardigheid begin gly toe ek moet terug hunkestrompel na my bed met nou net een hand wat die gowntjie toeknyp en die ander ene met die monstertjie wat my herinner het aan die eierlepelresies wat ons as kinders gehad het. Versigtig – nogal ook so ‘n hinkestrompel – want jy wil nie hê die eier moet val nie.  Nou – versigtig want jy’s bang die bleddie eierkarton gaan dalk besluit hy’t nou lank genoeg verduur voor als dalk in ‘n gemors beland op die skoongeskropte vloer wat vir my baie ruik soos die dettolsjampoe wat ek myself twee keer moes reining

Die  ontwerpers panty pas toe by die keppie wat my haardos moet bedek, maar o wee,  ontwerpers haarkeppie was toe te klein vir my pavlova hare. Die teaternurse draai vol selfvertroue om na ‘n geheime kassie en bring selfvoldaan vir my ‘n supergrootte goefa ene.  ‘Dis vir ons Rastafarianpasiënte mevrou.’

Onder die verblindende helder ligte van die operasietafel  verskyn die narkotiseur en verduidelik weer sy prosedures.  Hy glimlag so groot dat sy tande wit blits soos ‘n colgate advertensie.  Gerusstellend druk hy sy hand agter my nek en voor ek kan vra ‘what now’ seg hy ‘it’s got to go’ en ruk hy netjies die beskeie strikkie wat die laaste van my waardigheid vashou af.  ‘We have to access all the monitors on your chest swiftly in the event of an emergency’.  Tot nou toe weet ek nie of die ou gowntjie toe maar die lug ingevlieg is voordat ek myself aan die gesuis in my ore oorgegee het nie. Later terug in die saal vind ek  twee oorblywende plakkers – onder my boobs en ek wonder of die nurse hul opgelig het en hy hul geplak het en of hy dalk die lig en plak sommer als self gedoen het.  Om tyd te bespaar en bevordering van werkseffektiwiteit natuurlik.

Terug in die saal mag ek nie van die bed afgeklim het vir twee ure nie en die bedreëlings word ingekliek net ingeval ek nie verstaan nie. My blaas kon nie wag nie.   Dagpasiënte deel ‘n saal met drie ander pasiënte en die yl gordyntjies gee skrale troos wat privaatheid betref wanneer jy ‘n bedpan moet gebruik.  Terwyl ek nog half-bedwelmd verbete vasklou aan die een  ou reëlingkie en ek versigtig probeer balanseer met ‘n sementbeen  op ‘n bedpan wat wragtag van dieselfde eierkarton gemaak is, was my grootste bekommernis dat die bleddie affêring sal disintegreer voor evakuasie voltooi is en dat dit wyd en syd van die bed sal afreën ten aanskoue van almal anderkant die dun troosgorgordyn. Dit het darem nie.

Die chirurg kom laatmiddag besoek aflê – terwyl ek en sementbeen nog nie geroer het sedert die bedpanpetalje nie en ek dus nog nie naby ‘n spieël was om skadeherstel te doen nie.  Hy verduidelik dat die minuskus sleg geskeur was, onder andere.  Hy sit vir rukkie en een van sy kollegas wat ek nie ken nie kom saamgesels oor vetweet ek kan nie onthou nie.  Ek onthou wel dat hul altwee my ‘n druk gegee het.  Nogal.  Maar voor hy loop betuur hy my vir oulaas voor hy sê – ‘hmmm mooi woes hare nê’.

 

Advertisements

14 thoughts on “DDT Sjampoe en my Wonderlike Pavlova Hare

  1. Ek is só bly dat ek kan sê: ek het laas vir ‘n operasie gegaan voor ek nog behoorlik verstand gehad het. Jou vertelling is histeries snaaks, en terselfdertyd ook so effens vreesaanjaend. Ek het lekker gelees en hoop jy is vinnig weer skoppend-gesond!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s