Daksit en Soek

52951d9f2bafe74d5e5e3e41aa6aaf2e
Soekende Daksitter (foto van internet)

Ek’t gehoor van ‘n vrou wat op die dak sit met haar kat.  Sy’t verdwaal en hoop om haar daar van bo af raak te sien wanneer sy ver aankom sodat sy vinnig kan afklim en haar by die hekkie kan gaan aankeer. Sy verlang so na haarself.  Sy kan glad nie onthou wanneer sy dan nou eintlik weggeraak het nie.  Syself.   Soms klim sy in die nag ook daar op en dan roepkla sy weemoedig die nag in na haarself.

Daar’s ‘n vrou wat elke dag die berg op stap op soek na haarself.  Sy’s al so lankal weg – sy’s effe bekommerd sy herken haar nie. Het sy haar ooit geken, wonder sy?   Ek stel my voor dat sy vroegdag begin terwyl die nag nog vasgevang is aan die doudruppels wat aan die heide en bergvarings hang.  Die honde skarrel en snuffel vooruit.  Dalk kry hul haar eerste. Miskien toegetrek in ‘n kombers van spinnerakke nes ‘n sluimerende skoenlapper toegewoel in ‘n kokon wat wag vir die regte dag om aan te breek sodat sy dit kan oopbreek om uit te breek.

Ek weet van ‘n vrou wat op en af op Lambertsbaai se strande stap maande en maande al. Opsoek na haarself wat hopelik saam met gisteraand se branders uitgespoel het op die vroegoggend se ongetrapte strand.  Nog ‘n entjie verder dalk onder daai hoop skulpe wat daar saamgekolk het.

Ek wonder of hul reggekom het.

Twee kinders, ‘n Perd en Sleeping Beauty

 

Dis net hier waar n prinses op die berg vir eeue al so stillê
Sy hou spesiale memories vas onder haar kombers
Soos die een van twee nefies lank geleë
Wat een vakansie van soggens vroeg tot sawens laat
Op ‘n afgetrede ou perd se rug gespandeer het
Geduldig die kinders se verbeelding vleuels gegee het
Soggens gewag het vir hulle vir nog n dag se avontuur.

Hul het gejaag met De la Rey in boere oorloë
Indiane oorwin en eerste gekom in die Met – altwee regop gestaan op ou Vonk se rug -met hul glinsterende trofeë.

Die ou perd is sekerlik lanklank oorleë
lank na hul weg is hul sekerlik onthou
Die twee kinders wat hul ontferm het oor n ou perd
Hom weer jonk en lewendig laat voel –
nes die lewenslus in hul twee.

Die een seuntjie sprei sy vlerke êrens in Noorweë
Ontdek en oorwin vreemde wêrelde
Maar onthou steeds sy kleintyd avonture
Op n kleinhoewe op Riversdal se vlaktes.

Die ander jongetjie se asse word vandag in n nis by n kerkie in die Overberg gebêre
Sy lewe gekortwiek
Die lang siekte toe tog gewen.

In my verbeelding galop hy en Vonk
Het hul albei lang vlerke gekry
En vlieg hul deur die lug
Met n sierlike boog oor Sleeping Beauty
Met die son skitterend in hul vlerke
Bright en beautiful
Hul altwee nou ewig jonk en fier.

vissie kegan horse

Dis weg – saam met die Ossewa

Deesdae is my skryf opgeskryf.

Dit het seker maar verkluim saam die winterkou wat weer hierbuite kerm by my venster.  My lus om te griffel –  ja, dit  het seker maar verkluim. Die wind waai weer sy winterbeneukgeid so erg dat ek my asem ophou wanneer ek sien hoe die een ou boom se takke heen en weer ruk in die wind.  Foeitog – dat mens nou ‘n boom kan jammer kry.

Vermoedelik wroeg ek te veel deesdae.  Ek wonder of ander mense ook deur sulke wroegstadiums worstel.  Wroeg oor my kind wat so ver weg bly – daar waar die noordewinde vandaan kom.  Verlang is ‘n blessedste ding – en ek glo kinders verlang anderster as wat hul Ma’s verlang.  En in die winter in die Kaap, vrekweet, in die winter is dit of verlang wragtag kleintjies kry hier in die donker verlanggange êrens tussen my kop en die krop van my maag.

Wroeg oor ‘n nefie wat te jonk die stryd teen kanker verloor het en ek lê in die nag wakker en dink aan die twee blou-grootoog dogtertjies wat nou Pa-loos is.  Oor hul Ma wat nou alleen haar boot moet roei om aan die lewe te bly en sy Ma wat ook saans  moet rondrol. Wroeg oor my ou vriendin wat al flouer spartel teen die tentakels van Multisisteem Atrofie en ek wonder hoeveel langer ek nog vir haar Hallo Dolly kan sing as ek die gang afstap daar na waar sy stom en stil op haar stoel elke goddelike dag omsit.

Wroeg oor nog ‘n ou pel wat gesny moes word vir kanker – newwermaaind die uitmergelende gevolge wat verduur moet word met die bestraling.  Nog ‘n bors afgesny, nog ‘n stuk derm verwyder, nog whatever verwyder.

Maar ek mag nie fokkit sê nie en ek mag nie vra hoekom nie.

Wroeg is ‘n bliksem – jy dink dis maar net ‘n paar ou wroegingkies wat jou pla – voor jy jou kan kry is dit sommer ‘n hele ossewa vol wroeginge.  Dit moet ‘n ossewa wees – want ‘n ossewa is mos ‘n sukkelende stadige wa wat ordentlik kan stoei en steun met die wroegingsvrag.

 

Ek hoop die ossewa neuk gou by ‘n bleddie afgrond af.

Bless my Ma se Bloomers

Sy het grootgeword toe meisies nog bloomers gedra het ipv panties.  Sy en haar susters was geseën met groot tiete. Geneties oordraagbare feit.  Hul het op ‘n plaas grootgeword waar daar baie sand was, groot duwweltjies en baie van boggerol.  Sy het my gaan wys.  Dit was ook so.

100_8562-001

Ma het hierdie wonderlike eufemismes geken.  Versagtingkies. Trooswoordjies ipv om ‘n ding op by sy naam te noem. Sy kon nie vloek nie.

Die meisiekinders in Ma se familie is almal geseën met groot borste.  Borste – nee sy kon nie dit sê nie.  Asof dit ‘n skaamte was.  Groot tiete?  Pramme?  Nottendêm. ‘ Foeitog – die arme kind het ook haar ouma se groot pampoene geërf. ‘ Geërf?  Ja -soos ‘n besonderse erfstuk wat deur die geslagte oorhandig is.  Pampoene. Groottes .  Jy weet hoe familie soms kyk na neuse of oë of selfs bakbene om jou as familie te eien?  Met ons is dit die grootte van ons pampoene.

‘Het jou moer nou al bietjie gesak kind?’, wanneer een van haar lammers bietjie beneuk was.  ‘Kom ons maak koffie.  Moerkoffie.  Wat bietjie tyd vat om te trek  -dit moet afsak.’

Die ou man het ‘n manier gehad om haar effe moerig te maak maar sy kon nie vloek nie.  ‘Ag kind jou pa is net vol kaa aa kaa’.  ‘Kom ons maak koffie.’

‘Ek weet ook sweet blou all’ wanneer sy nie op hoogte was van die jonste skindernuus nie. Letterlik vertaal maak dit boggerol sin.  ‘Soet blaas alles’.

‘Jou Pa maak my so vies.  Hy vertel my absoluut sweet blow all.  Hy is deesdae so vol kaa aa kaa.    Kom ons maak koffie dat my moer kan sak.’ Ja Ma.

Ma kon nie shit of skyt sê nie.  Sy kon net nie.  Sy het ge ‘sha la la’.

‘Jou Pa maak my so vies.  Hy kan gaan sha la la.  Hy vertel my absoluut sweet blow all.  Hy is deesdae so vol kaa aa kaa.  Kom ons maak koffie dat my moer kan sak.’

Bless jou my liewe Ma – Bloomers ‘n all.

Die jongetjie het sy net so gelos by sy bliksemse pa Mevrou

db_Michael_Leu-_cat_and_woman1‘Mevrou, ons vrouens is darem sterk weet Mevrou’, sê sy vanoggend terwyl sy ‘n beker koffie vir my aangee.  Ek kyk traag op van die skerm – maar sy gaan ongestoord voort asof sy weet ek sal luister.  So by die derde sin  kyk ek tog op en begin die draad van die storie te volg.

“….. en sy het net geloop Mevrou.  In die middel van die nag – die baby en sy.  Met niks.  Gatvol van die abuse.  Gatvol van sy gesuipery.  Gatvol van die swaarkry.  Gatvol van sommer als.  En sy’t gehoor van die Kaap maar was nog nooit in die Kaap nie en het besluit, vandag is die dag om uit te vind waar is die Kaap.  In die middel van die nag het sy ‘n lift gekry agter in die bakkie.  Die jongetjie het sy daar gelos by sy Pa wat haar so gebliksem het.”

“Dis oukei Mammie – ek sal oukei wees.  Hy sal my nie slaan nie, ek weet hy sal nie.  En ek sal hier bly tot ek klaarmaak met skool. Dan sal ek na Mammie toe kom.”  “So het die jongetjie vir sy Ma gerusgestel en haar aangemoedig om die dronkgatman wat haar so abuse te los, Mevrou”.

“Erens langs die pad het die lift haar afgelaai.  Die baby was honger Mevrou, en sy het die baby kos gegee sonder om te weet waar sy is.  En Mevrou toe raak sy bang en toe huil sy so daar waar sy allenag sit met die drinkende baby en sy roep na haar Ma wat al laaaankal dood is en vra vir haar Ma: Ma, hoekom het jy my gelos? Wat gaan van my word, Ma?  En die baby, Ma?  En my jongetjie by die dronkgat useless bliksem, Ma?”

So ‘n hartseerstorie so vroeg in die oggend – ek’s sommer klaar depressed. Ek dog die storie hou daar op want baie van Lokkies aka Charlotte se townshipstories is maar depressing.  En ek het ook maar my eie kwellinge wat my nou en dan op Droewigheidstasie se platform laat wankel.  En Lokkies se eie storie is juis een van hulle.  Dis nou nie juis maanskyn en rose by haar eie voordeur nie en ek raak gans te dikwels so opgewerk van magteloosheid as sy my vertel van haar eie useless man.  Soveel so dat ek lusraak om daardie maargatrasta van haar se kop, sy arms en sy bene in sy eie stikdonker gat te wil inhelp.

haai lokkies en toeMaar Lokkies smile vanoggend ‘n bemoedigende klein smile en skep asem om die storie voort te sit.  Selfs die kat sit regop op my skoot asof hy ook wil sê “Haai shame Lokkies en toe?”

“En Mevrou!  Terwyl sy nog so bid hoor sy haar Ma se stem in haar oor wat haar troos en wat sê toemaar my kind, als sal oukei wees my kind.  Jy sal sien, dinge gaan nou verander my kind. En die stem was so helder dat sy skrik en rondkyk vir die  persoon wat dan nou nes haar Ma klink.  Maar daar’s niemand nie Mevrou. Niemand nie.  Net sy en die baby wat aan die slaapgeraak het.  Daar langs die pad.”

“En Mevrou, sy kyk toe op en daar kom ‘n man en vrou aangestap, smart aangetrek en sy vra hul toe waar is sy dan.   En hul’t gesê jy’s in die Eersterivier, en die Kaap is nog verder, daaikant toe.”  “En toe Mevrou, toe begin sy te huil en hul vra wat’s fout Mevrou en toe vertel sy hul haar storie, die hele storie van die abuse, die terrible dronkgatman en die 6 jarige jongetjie wat gesê het sy Ma moet loop hy sal oukei wees.”

“En weet Mevrou, hul sê toe toemaar als sal oukei wees en dat sy by hulle kan kom bly.  Dit was ‘n dominee en sy vrou en hul het haar ingevat Mevrou.  Haai Here Mevrou.  En haar lewe het verander en als was oukei Mevrou.”

Die kat  het weer gaan lê op my skoot, asof tevrede met die storie.  En die jongetjie, vra ek?

“Mevrou, eendag sê die dominee kom ons gaan kyk hoe lyk jou jongetjie.  En hul kry hom toe en hy sê toemaar Ma, ek’s oukei Ma.  En hy’t klaargemaak met skool Mevrou en hy’s nou getroud met ‘n huis en met kinders en die baby is ook groot en getroud en met kinders.  En die vrou Mevrou, sy so is happy.   En ek’s so bly ek het haar ontmoet  –  ek het sommer weer moed gekry.  Ons vrouens – ons is wonderlike goed Mevrou.”

Lokkies, aka Charlotte draai sing-sing om en gaan voort met haar werk.  Ek maak my soetkyse bymekaar op die platform van Droewigheidstasie en klim in die trein van Dankbaarheid.  Lokkies, my inspirasie vir die dag.

Shy’t nog styyyyyyywe tiete my kind

issie my skuld nie

Sy 89 en ‘n driekwartjarige lyf het nie die stroke sien kom nie.    Broos het die eens sterk byeboer my met vakante oë aangekyk.  Ai Pa.  Sy bene wou nie meer staan nie.  Sy loop het weggeloop.  Sy woorde het mompelend op die mat langs die bed bly lê.  Nou en dan is daar stamelende sinne wat ek tog verstaan.  Ek kom agter sy esse is ook opgebruik (hul is after all ook 89 en ‘n driekwart jaar oud) en het hy dit vervang met n SH.   Sy regopsit was opgesit en hy kon net sit as ek styf arm om die lyf langes hom sit.  Vir ‘n klein rukkie. So, lê moes hy lê terwyl die lig in sy oë elke dag bietjie flouer raak.  Ai Pa.

575a434fb9b3f3466effd3be0b287d54‘n Versorger het van ‘n kusdorpie in die Overberg ‘n paar dae later gekom. Die ou Byeboer was op sy dae maar rassisties.  Flou oë en sitloos ten spyt, het hy geweet hierdie nurse was nie een van sy mense nie.  Vir ‘n oomblik is die vuur terug in sy oë en kry hy dit reg om reguit in myne te gluur.  ‘Bad choice’ snou hy my toe.  ‘Bad choice’ sê hy weer om seker te maak ek verstaan sy misnoeë met hierdie nurse.

Drie dae later – dalk was dit twee.  Hy maak sy tandlose mond wyd oop terwyl die nurse hom voer – nes ‘n voeëltjie.  ‘Dankie nursh, dit wash lekker’.   Later sit ek weer langs hom op die bed, my arm liefderik om sy benerige lyf. Die nurse is ook daar en vou ‘n paar stukkies klere op.

Sy vertel dat sy hom al twee keer gebad het – Pa was mal oor bad.  Hy’s kalm en daar’s aanvaarding in sy lyftaal vir die nursh sien ek.  So sit ons twee op die bed, my arm om sy benerige lyf, die ou hond by ons voete, ‘n rustige lekker sitterige sit – Pa en ek.

‘Weet jy’, sê hy, ‘shy’ sê hy, ‘shy’s okei’.  ‘En weet jy’, sê hy terwyl daar ‘n vonkel in sy futlose oë kom sit, ‘shy’t nog STYYYYYYYYYWE tiete’.  En hy begin te lag.  En ek lag.  En die nurse lag.  Ons lag die lieflikste lekkerste skaterende skuttende lag. Dit was die beste lag voor my liewe ou byeboerPa twee weke later, drie weke voor sy 90ste verjaarsdag, Hemel toe is.

bee

Ma, ‘n sagte bandage vir die gat in my hart ‘seblief Ma

Nog ‘n jaar is verby en daardie ou gat is al weer hier in my hart.  Is daar ‘n sagte bandage hiervoor?  Hoe wens ek tog Ma was nog hier dat ek tog nog eenmaal kon dankie sê en Ma teen my hart vasruk; die bekende kreukels in Ma se nek nog eenkeer teen my lippe voel.   Daar is elke jaar meer goed wat ek aan dink wat ek dan nooit voor dankie gesê het nie. Dankie dat Ma my tog grootgemaak het, al was ek die 6de een – ek’s seker teen daardie tyd was Ma al moeg en seker ‘n bietjie gatvol. Verdomp – ons het nie eers daai tyd krag gehad nie en die donkie moes elke aand gestook geword het vir warmwater.   Ma moes dus my dungewasde doeke met die hand was want daar was nie eers ‘n bleddie wasmasjien nie – want daar was nie bleddie krag nie.  Guh!
Ma jy’t so gelukkig gelyk hier.  Jonk.  Sprankelend.  Die lewe het geroep.  En toe kom die kinders – dit was seker ‘n bietjie van ‘n ontnugtering.  Die lewe berei mens mos nie voor vir kinders grootmaak nie.  Het Ma ook, soos ek, gesteier onder hierdie kosbare verantwoordelike titel wat ons gekry het?  Onkundig.  Moeg. Bang. Opgewonde.  Bekommerd.  Trots.  Afgeskeep.  Vervuld.
Houtkap, vuurmaak, honger mae volhou, eindelose wasgoed was en stryk, klere lap en stop, siek kinders troos, stout kinders regleer, tergery keer, die knaende moegheid wegsteek en kreatief pennies omdraai om 6 wilderige kinders groot te maak was seker nie deel van Ma se drome toe Pa destyds jou met sy vonkel in sy oë, gespierde kuite en boerse sjarme oorrompel het nie.  Maar Ma jy’t met vlieende vaandels die eerste prys gewen – loshande.

Dankie dat Ma my leer visbak het – op 95, toe net ons twee en die hond mekaar vir ‘n week gehad het.  Daardie week toe die lag in Ma se oë geglinster het – nes hier op die kiekie.

Ma leer my snoek bak

Dankie dat Ma vir my winkelbrood gekoop het toe ek klein en vol tjol was – al was ek die enigste ene wat nie Ma se selfgekniede/selfgebakte brood wou eet nie.
Dankie dat Ma al die troeteldiere wat ons aangedra het verdra en  kosgegee het. Die squirrels.  Die uile.  Die katte.  Die honde en Ampie die meerkat wat Piet by Al Debbo gekry  het.
Ma en die hond rus lekker na die visbakles.

 Dankie dat Ma so onpretensieus, so opreg, so absoluut eerlik, so knaend, so trots, so onophoudelik en onvoorwaardelik lief vir my kinders was.
Dankie vir Ma se troos as ek moedeloos was en moeg was; gefrustreerd en radeloos was – vir watter sinnelose rede dit ookal was.

Ma se eindelose geduld, Ma se grenslose, onbaatsugtige liefde en Ma se eie hemelse vyejêm op die eiegebakte brood wat ek later voor sou baklei vir die warmkorsie – dankie Ma.

Ma het nooit my verkeerde besluite veroordeel nie, kon my tienertantrums en -frustrasies met gestoofde koejawels en custard lawe en nooit gekla as ek met moddervoete oor Ma se geskropte vloere geloop het nie.  Nooit het ek Ma hoor kla oor die eindelose bondels wasgoed of nimmer-eindegende bak skottelgoed nie. Dankie Ma.

Dankie Ma vir die jerseys wat Ma vir my kinders in hul kleintyd gebrei het, die slaaptydstories wat Ma vir hul vertel het – al was Ma al oud en moeg.  Dankie vir die blygeit wat altyd onverbloem in Ma se oë geskyn het wanneer Ma my kinders gesien het en hul altyd om die kombuistafel  met jellie en custard bederf het.

Dankie vir hierdie hande wat vir soveel jare soveel liefde gegee het.

Liewe Ma en my kind
Liewe Ma en my ander kind
Die soen van ‘n engel
Liewe Ma en my Blompotmeisiekind

Dankie dat Ma skaamteloos oor my gebrêg het toe ek blindelings ‘n winkeltjie oopgemaak het.   Dankie dat Ma so mooi na Pa gekyk het en dat jul saam kon oud word.  Die ou bogger – hy het die jackpot gekry met Ma.

100_8558
“Ek voel soos die Queen hier in jou winkel my kind”

Ma het vertel sy voel soos die Queen toe sy in my winkel gesit het tussen my skatte.  Ma was opreg in haar skik oor die mooigeit wat hier bymekaar in die piepklein winkeltjie uitgestal was.  Dankie dat Ma my onervare winkeltalent besing en aangemoedig het.   En ja, ons albei weet ek’t nie sakke vol geld gemaak nie, maar my hart en siel was ryk.

Bella Rosa

Liewe Ma pluk ‘n koejawel

Dankie Ma – ek koester jou in my hart, in my wese; in my siel – vir ewig.
Gelukkige Moedersdag Ma.